
Katedraal van St Ambrogio, in Milaan
Op Rosalind se werf [skakel?] skryf sy baie interessant oor die STILTE met die groot letters; die ervaring van die stilte moet dit seker wees – en dit is opvallend uit kommentare dat almal dit begeer, maar miskien verskillende idees daaroor het; sommige reken dit is net te vinde in ‘n klooster; ander reken die Buddiste het die geheim; ander meen in die natuur, en so verder. Dis dalk meer die IDEE van die stilte waarna mense verlang; want eintlik is dit [STILTE] alom ons; en maklik te vinde… in die vroee oggendure; stap in ‘n park; iewers in die huis… dit het sekerlik skaars geword in ons daaglikse gejaagde bestaan en roetine; maar dit is dan meer die skuld van ons lewenswyse, nie van plek as sulks nie. Dis goed om daaroor na te dink. Caroline Myss het ook gepleit dat elkeen iewers in sy of haar dag die stiltetyd moet skep… ons kan nie meer almal klooster toe storm nie!! Die klooster is vir die taaies, diegene wat jare se stilte soek: soos vir die Thomas Merton’s onder ons. Ek kan nie dink dat iemand soos Moeder Theresa veel stilte tussen die armes van Calcutta gevind het nie… maar sy moes dit tog in die siel kon saamdra. Stilte… miskien is die uitdrukking v Rosalind, nl die “geraas van die stilte”, nie heeltemal die beste nie, hoewel fassinerend - die feit is dat ‘n mens wel na die stilte kan luister…soos na klank; sou mens dit beter stel as “die klank van die stilte”. Die Laelanders gebruik die mooi woord “geluid” nogal dikwels; en mens sou dus kon praat van “die geluid van die stilte” – eerder as geraas van die stilte. Nou ja, dis alles ‘n spel met woorde… want dalk is daar dan nooit heeltemal volkome stilte nie; altyd die een of ander agtergrondgeluid… (in my geval lugreeling nommer 2 wat zoem en kreun deur die nag). Die gelag van die kinders buite die venster… dit is alles agtergrondgeluide; die voels in die bome, vinke wat kwetter. Dit gaan vir my meer oor stilte in die gees en stilte in die hart wat almal na verlang – of selfs beter uitgedruk: die ervaring van vrede - eintlik God se Stilte, sou ek dink. Oor die agtergrondgeraas/-geluid/-klanke net nog dit: ons weet dat ons maar net binne sekere frekwensies hoor; katte en honde hoor ander frekwensies… insekte ook, en so aan. Daar is dus beslis geluide wat ons NIE hoor nie, alles teenwoordig in die Stilte rondom ons. EN in die heelal self is daar ‘n wind van elektromagnetiese golwe wat alles deurspoel, bv radiogolwe, infrarooi, en meer…’n voortdurende energetiese “geraas” in die agtergrond. Dus: waar is die stilte dan eintlik, as dit nie in die hart is nie? En daarvoor hoef mens seker nie Bronkhorstpruit toe te jaag, of iewers anders heen nie. Ek reken mens kan wel na wild gaan kyk (in die regte gesindheid) en die veld beleef tydens stap… en sodoende stilte ervaar; daar is mos iets soos ‘n wandelende meditasie, die nadink terwyl jy stap. (Maak net seker jy is saam met die regte stapmaats). Mens kan dalk stilte geniet terwyl jy skottelgoed was. Beweging maak nie stilte tot niet nie; mens kan die Karoo deur die motor se venster geniet. Almal wat al langs die Visrivier af is na Ai-Ais ken die stilte…. mmmmm daar’s nou vir jou stilte hoor; net die knars en slof van jou stapmaat se skoene, en van jou eie voeteval; af en toe ‘n valkie; af en toe die kabbeling van water. Klooster gesoek? Probeer die Visrivier-vallei. Vergeet van Bronkhorstspruit…tensy mens iets soos die Wilgerspruit bedoel. Ek het hom al geroei in ‘n witwaterkano; het die T-hempie en die pynlike sonbrand gekry. Ek dink mens sou baie meer oor die stilte kan praat, hoe paradoksaal dit ook klink… die binneplein van St Ambrogio in Milaan doen dit vir my. Pindakamp in Hluhluwe, of die dam by Rust de Winter. Die berge naby Marquard sal doen. Die Kalahari! Ek is seker ons het almal ons eie ”plekke”. Ons moet dit miskien net meer dikwels opsoek… Dankie aan Rosalind wat hierdie saak stilletjies geopper het. Maar wat presies het sy bedoel met die “geraas” van die Stilte…? [Jorikman]